Saturday, September 16, 2006

12 en 13 Sep 06 – GROOT KAROO en OOS VRYSTAAT

Weg net so voor die koue en bewolkheid – kyk, genoeg van wolke en reën is ook genoeg. Ja, ek is gisteroggend – die 12 de, daar uit Graaff Reinet uit. Met die ry-slag het die wolke en mis laag gehang en het daar so ‘n geniepsige windjie gestoot. Sommer in die eerste pas al het dit begin reën en ek baie vêr gery – tot net duskant Middelburg, voor die mis begin lig het. Hoor juis vandag oor die radio hulle het gisternag mooi reënt gehad op Graaff Reinet.

Die aarde hier deur die Groot Karoo is mooi – ek is nou nie juis ‘n kenner op Karoo veld nie, maar tot ek kan sien dat daar baie weiding is en orals blom daai geharde bossies. Die wêreld hierlangs is nie so mals met hul kleurespel as meer suid na die Klein Karoo nie, maar ook mooi met die blou wasige berge altyd in die agtergrond. Dit is meer oop hierlangs met sulke klip rante en kort harde bome in die klofies. Maar, oral is water! Elke holtetjie en dammetjie is tot oorlopenstoe vol – die bome op die kante staan almal so half vieserig met hul pote in die water – dink nie hul is dit baie gewoond nie!

Uitgeklim daar by Loodsbergpas om ‘n paar fotos te neem – mens, maar waai daar ‘n ou noordpoolwindjie! Ek het toe maar bietjie aangedruk om ontbyt êrens te nuttig – het juis so deur Middelburg gery, maar niks gekry, en is toe vort Steynsburg toe. Ek moet sê – die Transvaalse Middelburg is defnitief beter as die Kaapse ene! Sommer net nog ‘n dorpie – seker OK om te bly, maar niks lekker om deur te ry nie.

Steynburg is nie onnodig groot nie. Daar is een moterhawe wat motors verkoop – daar is net een vrt om te verkoop in die vertoonlokaal – moet ‘n voor 196o lorrie wees – jok nie, kyk die foto! Stop toe by die enigste plek wat ontbyt gee – Africa Café of so iets. Is so iets van als – hulle verkoop ‘n paar blikkies koeldrank, sigarette, tweedehandse boeke (Readers Digest Condensed), ‘n paar tuisnywerheid koeke, sulke hang goed van glas en vere, ‘n paar leë volstruisdoppe en ystervarkpenne, iemand se tweedehandse prente, ‘n paar hoede en ‘n uil of twee (wonder of hulle op Nieu Betestha was) en of ou klere of nuwe klere van ‘n ou snit. Maar dis skoon en dis netjies – en die beste, die kos is lekker. Die oom het self gaan ontbyt maak en die ketel loop aansit vir koffie. Sommer by die tafel gebly vir gesels en uitvra so met die kos bring. Van dat sy kinders nie daar wil kom kuier - te stil blykbaar, tot dat die laaitie agter die till baie goed is met adverteer – maar wat se kans is hier? Ons het die meriete om te verkoop en Umbilo in Durban toe te trek bespreek – soos hy sê, miskien kom die kinders dan kuier. Ek het nie baie woorde ingekry nie – miskien is die luister beter, ‘n oor is mos half beter as simpel raad.
Verkwik is ek daar oor Burgersdorp waar ek ‘n ou Blokhuis gaan bekyk het – dit troon so oor die dorpie. Daai blokhuise is mos deur die Kakies gebou in die Anglo Boere oorlog so al met die treinspoor langs vir akkomodasie vir hul troepe wat die spoor en die dorpies opgepas het, en ook om as forte vir verdediging te gebruik. Die gebou is nog stewig en redelik opgepas.

Vandaar na Aliwal Noord waar ek wou oorbly vir die aand. Maar Lesotho nagmaal op Sannieshof! Daai plek het gewemel en gekrioel – in die straat, langs die straat, op die sypaadjies, onderdeur die kar – net waar jy kyk! Of hulle het ‘n bitter groot informele nedersetting, want die dorpie self is maar klein, of die hele Lesotho het kom inkopies doen. Het nie gewaag om stil te hou, het net so bly beweeg – was in elk geval geen plek om stil te hou nie. Tensy ek ‘n bier wou koop, ‘n sypaadjie haarkapper wou benut, een of ander hoender in stukke of klere by die Chinashops wou koop. Maar daar is een diep nice ding daar – daai brug noord uit – Vrystaat toe. Ek is toe ook half haastig oor hom en deur die varkvleissoekpadblokkade. Daar het ‘n vleisinspekteur my jare besig gehou – wou nie eintlik soek vir vleis nie, maar het die groot gesels gehad. Van dat hy dink my Skerpioen lorretjie is eintlik net so oulik soos ‘n Pajero of ‘n ding, tot watter paaie ek nou langs gery het. Van op die kaart vir hom wys van die ander padblokkades, tot detail oor die varksiektes en hoelank dit nog gaan aanhou. En ek het nie eers ‘n woord ingekry nie! Maar was ook OK – het in elk geval my gedagtes weggevat van daai miernes wat ek deur is.

Rouxville is Aliwal se boetie. Daar moes iets gewees het – tjalie uitverkoping of iets, wat daai dorpe so volgemaak het. Ek hou toe maar deur en laai so ou Outa op wat hike met ‘n drom olie en ‘n battery. Hy is toe op pad Zastron toe en ek ook. Nee, sê hy op my vraag – die mense het pay gekry, dis hoekom daar so baie is. Nou kyk – ek het geweet die Vrystaat is ‘n end agter, maar die 12de pay kry? ‘n Dinsdag? Maar laat ek nie die logika van diè wêreld bevraagteken nie. Die olie en battery, verduidelik hy, het hy gekoop op Aliwal waar hy vir sy sussie se seun se troue was en toe bietjie aangebly het vir ‘n kuier. Dis baie goedkoper as op Zastron – diep goedkoper.

Laat middag sleep ek toe Zastron (nogal verbasend stil) in en vind die bordjies wat my beduie na die Eeufees kampterrein, so twee kilometer die kloof in op ‘n grondpaadjie. Half verlate – maar daar kom ‘n man aangestap van die opsigterhuis af – hy is die man met die boekie. Kry kleingeld en ‘n sleutel ook, en toe is die terrein myne. Ek dink nie daar kom eintlik iemand met ‘n karavaan soontoe nie – maar die dam is oorvol en die berge mooi. Jy voel nie onnnodig deel van die gejaagde wêreld as jy daar voor jou karavaan sit en jou koningrykie so bekyk nie. Met die draai deur die dorp het ek gehoor ek kan by die Take Away op die hoek iets kry, maar daar is nie ‘n restaurant nie, net die hotel, en hulle gee etes. Onthou julle, my ouma het ook gepraat van – ‘’hulle gee etes’’.

Vanoggend vroeg het ek die karavaan gehak en die pad gevat Wepener toe.

Enigiemand wat daai pad tussen Aliwal Noord en Wepener ry – selfs tot op Ladybrand, dit is baie, baie sleg! Die pad is net gate – baie is met grond opgevul, maar dit is ongelyk en baie is glad nie toegemaak nie. Daar is groepe wat werk aan die pad, maar dit is ‘n lewenslange projek – moontlik ‘n erflating. Ek het 80 en selfs 60 km/h met die karavaan gery – en nie baie het my verbygesteek nie.

Wepener – ishhh! As mens nie iets goeds kan sê nie – moenie iets sê nie. So is ek toe by Ladybrand in. Daai dorp wemel van die Lesotho! En dit is net Brits! Nie Engels soos ons Engels ken nie, maar so warm-patata-in-die-mond tipe. Van waar Gehasie? Maar in elk geval, die waiter ken Afrikaans en die ontbyt was lekker by so kafeetjie langs die Toeriste-info kantoortjie. Ek het brosjures daar by die Info gaan haal, en daar was twee toeriste voor my wat iets van die omgewing wou weet. Hulle het so ‘n vinnige lesing oor die Vrystaat in geheel in 3 sinne gekry – wil gedoen wees. Ek’t gesien, hulle was effens verbysterd, gaan hulle ‘n rukkie vat om al daai plekke op een kaart te kry. Hulle sê mos – as jy niks weet nie, praat baie, verstom almal! Ladybrand bly vir my ‘n mooi dorp met sy baie sandsteen geboue – hulle lyk al beter met die jare.

Van voor Ladybrand af begin die Maloti roete – dit is vrek mooi met daai berge en die sandsteenkranse. Seker een van die mooiste roetes om te ry. Deie omgewing moet nou net inkoop in die poging om toerisme te trek. ‘n Paar ordentlike oorblyplekke, skoon geriewe by pertolstasies, goeie aanwysings en ‘n plek om koffie te koop. Basics! Hierdie ouens kan regtig by die Suid Kaap en die Karoo dorpe gaan leer oor toerisme.

Van daar het ek gas gegee verby Clocolan en Ficksburg na Fouriesburg toe. Ek het my karavaan ingetrek hier op een van die mooiste plekke – en ek het nou al baie mooi plekke gesien. Meiringspoort net buite Fouriesburg. Dit is binne in een van daai sandsteenkrans poorte met groot koeltebome en waterstrome. Ek gaan hier bly tot so Maandagoggend se kant en die hele wêreld terug tot by Clocolan en vorentoe tot by Golden Gate van hier af bery.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home