14 Sep 06 – FOURIESBURG
Hier is ek op, of moet ek se, naby Fouriesburg. So 2 of 3 km buite Fouriesburg in die mooiste kloof - Meiringskloof. Dink ek gaan hier bly vir 'n paar dae en die wereld hierrond platry van hier af. Die selfoonopvangs is egter beroerd, is bietjie diep daar in die aarde in – moet ‘n ent gaan ry as ek goed soos hierdie op die internet wil sit – bly net uitskop daar in die kloof.
Vanoggend toe die sonnetjie sy kop hier oor die omringende rante stoot, toe pak ek my rugsakkie, sit ‘n bottel koeldrank in, en vat die pad die kloof in. Hier is optrent 5 wandelpaaie by die kampeerterrein – almal redelik kort em eem of twee so 3 na 4 ure lank. Daar is blykbaar een van 5 dae – sal nou nie vir hom ingaan nie.
Ek het vanoggend gestap tot by die watertonnels – dit is so ‘n 3 ure stap uit en tuis. Die kloof is ruig begroei met hoë bome en bosse met redelike digte ondergroei. Die paadjies is egter duidelik en jy hoef nooit jou lyf akkedis te hou nie – wel ‘n keer of wat bobbejaan as die ou bene nie so lekker wil vastrap nie. So met die kloof op het ek by die Boesmangrot verby gegaan asook die een kruinroete wat ek môre sal doen – is ek vanaand bly ek het hulle vanoggend ‘n mis gegee!
Ek is daar by die holkrans verby waar ‘n groot groep vrouens en kinders tydens die Anglo – Boere oorlog gebly het. Dit is nogal ‘n groot grot met ‘n baie groot oppervlak, maar omdat dit ‘n holkrans is, loop die reën / water terug teen die dak af in binnetoe – dit is hoe die holkranse gevorm word. Was seker beskerming teen die ergste weerstoestande, maar moes maar op sy beste ‘n erge ontbering gewees het. Die grot se ingang word redelik toegemaak met groot bosse en bome en hulle sou redelik veilig daar gewees het. As mens darem so stilstaan by so ‘n plek en jou indink in wat die Boere deurgegaan het – veral die vrouens en kinders – tydens die Anglo – Boere oorlog, is dit vrek moeilik om nie te verwens en te veroordeel nie.
Vandaar is ek verder by die rotskoorsteen – ‘n stapel baaaaie groot klippe soos ‘n koorsteen - en die watergat verby. Glo my – ek het hom nie getoets nie, in daai kloof sal die water so koud soos ‘n yskas wees! So ‘n ent aan kom jy by ‘n kettingleer teen die krans op. Skud – skud is ek daar op, tot buite-op die gelykte, en jy kan nie glo jy was ‘n minuut vroeër in ‘n woud binne-in ‘n kloof nie! Oop Vrystaat met die berge en pieke om jou met grasvelde!
Die dorp se dam – nie vreeslik groot nie, is ook daar aan die bokant van die kloof gebou. Mens loop bykans om die hele dam om by sy inloop te kom waar die water oor die eeue heen onderdeur die rotse getonnel het en die mooiste tonele geskep het. Daar is sandbanke en die water is laag – jy klouter daar af en dan kan jy so vir ‘n 200 meter of verder in die tonnels loop en dan verder met die kloof op – heeltyd met holkranse in verskillende stadiums van ontwikkeling om jou. Weer daar uit teen die kant – daar is plekke vir jou voete in die klip uitgekap – tot bo, en dan al die pad terug. Met die pad terug saam, sien mens egter weer so baie mooi goed uit ‘n totaal ander hoek, dat dit net lekker bly.
My se voete was op van die klouter en vastrap toe ek terugkom en ek was omtrent warm! Dog toe ek sal bietjie in die swembad klim vir afkoel, maar ek was onmiddelik afgekoel toe ek net my voete in daai swembad druk. Het my 30 minute in die son sit gekos om weer op ‘n normale temperatuur te kom.
Laat vanmiddag is ek hier af Fouriesburg toe – het op die Internet en sulke blaadjies gelees van als wat hier te sien is. Ek ry toe eers by die Toeriste Info kantoor aan – dit moet deel van die stadsraad poste wees, want al die plekkies wat ek gesien het is erg regstellend – eintlik nie regstellend nie, maar ontstellend! Sy het my na die ou klipkerk, gebou in 1898, en blokhuis beduie. Bietjie vaag met die res, maar ek dink nie daar is ooit kennis en sulke dinge oorhandig as ‘n nuwe stadsraad oorneem nie.
Die kerkterrein is gesluit – moet so deur die tralies afneem, die kerkmense hierlangs is moontlik maar half suinig met hul mooi kerk, of hulle weet nie dat dit een van slegs 2 of drie besienswaardighede in die omgewing is nie. Dit is ‘n baie mooi sandsteen gebou met so ‘n kort kasteelagtige toring en toe befomfaai hulle dit deur ‘n spits toring bo-op daai plat fortagtige toring te plak. Op die selfde terrein – ook agter die geslote tralies, is die blokhuis – blykbaar is daar net twee van hulle soort oor in die land. Ook geen wonder – die blokhuis lyk of dit van sink is – moontlik klip binne? Maar hy is klein – lyk soos ‘n groterige buite kleinhuisie. Weet nie hoe die ding gebruik is nie, en hoekom staan dit daar langs die kerk? Moes baie in die selfde tyd gebou gewees het – maar niemand om te vra en defnitief geen bordjies of iets.
In die tyd van die oorlog het Pres Steyn vir ‘n tyd in Fouriesburg gebly en die dorp is toe as die hoofstad van die Vrystaat verklaar terwyl die Engelse Bloemfontein beset het. Fouriesburg was een van die sterkpunte van die Boere tydens die oorlog. (Hoop nie dit is hulle wat daai stoepid blokhuis gebruik het nie!) Die huis waar Pres Steyn gewoon het, kan een van twee wees – niemand is seker nie? Albei baie gewone klein sandsteenhuise en uit daardie tyd. Maar omtrent 80% van die huise en geboue op die dorp is van sandsteen – dit kan so besonders wees indien dit instandgehou word of mooi gemaak word. O ja, die Info kantoor het my ingelig dat die museum anderdag afgebrand het, nou weet niemand iets van vroeër nie.
Ek het sommer so ‘n diep aakligheid in my oor die toestand op ons klein dorpies. In die Wes Kaap gaan dit redelik en in ‘n mindere mate ook in die Oos Kaap (wel, die een wat ek in was, die ander is ook maar treurig), maar al die Vrystaat dorpies sovêr is baie terug op die brug. Die Regering se patetiese beleid tov plaaslike regering is baie duidelik op die klein dorpies te sien, waar die mense wat aan bewind kom geen idee het van hoe om ‘n dorp met sy infrastruktuur te run nie. En net sodra die groep ‘n idee kry van hoe om dit te run, dan is daar weer ‘n verkiesing en die volgende klomp onkundiges word ingestem. Geen tot baie min instandhouding in en om die dorpe, onversorgde openbare geriewe en areas, winkels wat of toe staan, of wat verval het tot plastiese emmers en drie komberse – meestal ook bedryf deur ‘n Sjinees of Arabier. Daar is egter tekens in al die dorpe dat die mense begin besef dat hulle sal moet betrokke raak – niks gaan regkom as almal op hulle agterente sit en wag dat alles inmekaar tuimel nie. Maar dit gaan stadig – vir baie lank was ons gewoond daar is ‘n relatiewe kapabele organisasie en regering gewees wat dinge bedryf het vir ons – ons het nie direk bemoeid gewees nie.
Genoeg van swartgallig – of liewer, genoeg van realisties wees, ek gaan môre of Clarens of Ficksburg se rigting bekyk – sal môre besluit. Gaan nou sommer glad nie môre die Boesmangrot bekyk nie – het genoeg van hulle vanmiddag gesien!
0 Comments:
Post a Comment
<< Home