Thursday, September 21, 2006

15 tot 20 Sep 06 - GOLDEN GATE en CLARENS

Is vanaand my laaste aand in hierdie deel van die land wat mens nie rêrig in woorde kan beskryf nie – ek het probeer om dit te doen in fotos, maar kon ook nie daarin slaag om die grootsheid, die ademloosheid vas te vang nie.

Ek het elke dag in ‘n ander rigting gery om ander plekke in die omgewing te bekyk en het geskuif na die karavaanpark in Golden Gate self – mooi en naby alles. Is nie so mooi soos in Meiringskloof nie, maar is lekker en nogal heel besig.

Jammer my vorige briewe en fotos het so lank gevat om op die net te kom – selfoonkoms hier is bloot ‘n gedagte!

Ek het Arno en Beatrix in die hande gekry en het dus sommer eerstehandse ‘’local’’ begeleiding gehad. Leer toe ook sommer dat Clarens, wat vernoem is na die dorpie in Switzerland waar Pres Kruger heen is met die Anglo – Boere oorlog, in die selfde jaar gestig is as wat die Titanic te water gelaat en ook gesink het. Well, Clarens staan nog - om die waarheid te sê, die enigste ooreenkoms met die Titanic is die groot sandsteenformasie net buite die dorp wat Titanic gedoop is en die sneeu wat hulle jaarliks in die omgewing beleef. Clarens is ‘n baie besonderse dorp en totaal verskillend as enige ander plek wat ek deur die Karoo of erens in die Vrystaat gesien het. Herinner my baie aan Knysna. Totaal ingerig en georienteer tov kuns en toerisme met geen van die gewone Spar, Wimpy of sulke aardse kettingwinkels nie. Dat dit werk, is ooglopend – oor die naweek was die dorp (en hy is nie baie groot nie) kant en wal van mense van oraloor – Bethlehem, Bloemfontein, Gauteng, toeriste by die busvol en almal het deur die kunsgallerye en peperduur winkeltjies geloop en koop en die letterlik tientalle restaurantjies en koffiekroegies volgepak. Die dorpie is nie baie groot nie, maar hier is blykbaar oor ‘n honderd gastehuise. Daar is redelik uitbreiding – maar is eintlik reeds op sy grense. Die plekke wat oop is, is reeds uitgekoop en ontwikkeling is reeds aan die gang. Hulle gaan ‘n groot gholflandgoed bou wat deel is van die dorpie en daar is rumours dat ‘n Biljoeners ontwikkeling met ‘n gholfbaan wat deur Garry Player ontwerp is, hier tussen Clarens en Fouriesburg gaan ontwikkel. Sal help vir die ekonomie in die omgewing, maar ek is bevrees, niks vir die mooiheid van die area nie! Ons het Sondag daar by die oudste hotel in Clarens, Maluti Mountain Lodge – sit so op die uitgang daar na Bethlehem gaan eet – ek dink jy moet omtrent ‘n local wees om te weet van daardie buffét – dit was vingerleklekker!
Sommer ook deurgery daar na waar die Tonnel vanaf die Katzedam uitmond in die As Rivier. Daarvandaan loop dit af na Bethelehem om dan later met die Wilge en die Vaalrivier langs in die Vaaldam te beland. Daai tonnel is 40 km lank!! En so groot dat jy hom met ‘n voertuig – bakkie – inspekteer (hulle maak gelukkig eers die water toe!). Tog wonderlik hoe vooruitsiendheid werk – daardie totale projek is 15 – 20 jaar of langer terug begin met die oog daarop dat die Rand eendag gaan sukkel met water en dat hierdie die Rand se water sal aanvul. Dan wonder ek by myself hoe ernstig ons huidige regering besig is met projekte – of ry ons nog steeds op die rug van die beplanning, vooruitsiendheid en briljansie van die sogenaamde ‘’apartheidsregering’’?

Die omgewing rondom die Golden Gate is baie interresant. Daar is enigiets van
‘n regte Camelot kasteel op die dorp – is nou ‘n gastehuis – tot ‘n regte Rapoensel/Goue Lokkies Kasteel, kompleet met goue haarvlegsel wat by die toring uithang. Peperduur albei, maar nogtans! Kreatief se Moses! Verder is die omgewing deurspek met vakansie plase, 4x4 roetes, trips met squats, perde ritte in die berge, wandelpaaie en voetslaanpaaie en weet nie wat nog nie. En hulle is besig! O ja, ek het geleer – die verskil tussen ‘n wandelpad en voetslaanroete is blykbaar die afstand en die moeilikgeit! Ek doen bevoorbeeld wandelpaaie met my rugbybroek, T shirt en plakkies en die ouens wat vir dae die berge vat met die nuutste skeppings van die Outdoor World en diesulke winkels, is op voetslaanroetes.

Golden Gate self is moelik om te beskryf. Om elke draai en in elke rigting is daar iets pragtig. Dit wissel ook met die stand van die son – dan belig die son diè kant van die rotsformasies, en vanmiddag lyk dit weer heeltemal anders. Hierdie geel en rooi sandsteengebergtes is regtig indrukwekkend – mens kan sommer so stil daar by een van die uitkykpunte sit en dan praat jy lank en diep met God daar in Sy huis. Daai plekke voel vir my soos kerk, ons as mense kan bou en kreatief wees soos ons wil, maar naby kom aan die geringste van een van daai rotsformasies in Sy skepping – nooit nie! ‘n Deel van die berg het afgebrand, maar gelukkig het die reën en die sneeu wat hul vroeër gehad het, meeste van die gedeeltes laat groen word. Groot dele het so ‘n groen skynsel wat nogal mooi kontrasteer met die vaalwit gras van die res. In die aand verlig hulle die Brandwag – dis ‘n punt van die berg wat so uitstaan, het spesiaal nou die aand dit loop afneem. Het vanoggend een van die wandelpaaie soontoe geneem om daar bo-op te loop klim – was nogal ‘n stywe entjie se klim. Kry toe daarbo so ‘n troppie skoolkinders van een of ander skool in die omgewing – die natuurbewaarders neem omtrent elke dag so groep hier in die berg op. het ‘n ruk sit en luister – het ook bietjie natuurwetenskap of wat hulle dit ookal deesdae noem, geleer.

Die anderdag opgery daar met ‘n paadjie na ‘n plek wat hulle die Highlands Mountain Retreat noem. Wens ek kan julle almal soontoe neem – ek het in my lewe nie so ‘n natuurtoneel gesien nie. Jou asem raak sommer so op van die grootheid. Dit is amper bo-op daardie berge – alles lê sommer so wyd en stil onder jou daar na die noorde toe. Kan sommer so ‘n hele dag daar sit en staar sonder een enkele gedagte in jou kop.

Het die ander dag ook redelik wild - veral heelwat Elande en Zebras – gesien, toe ek daai Oribi sirkel en die Blesbok sirkel gaan ry het. Ongelukkig het ek die etenstyd by die Aasvoël restaurant gemis – net die hope kaal karkasse gekry!

Maar dit is genoeg – julle sal self moet kom en oorbly – nie net deurry nie! Ek gaan vanaand vir oulaas daar op Clarens ‘n T been geniet – daar by die ‘’the Post’’. Moreoggend vroeg vat ek die pad hier op na die Transvaal – sien al uit daarna. Verlang my se familie.
Mooi Loop.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home