21 tot 25 SEP 06 – TRANSVAAL
Ja, ek is terug in die Transvaal – moet sê, ek het al begin verlang na hierdie deel van ons ongelooflike mooi land. Ek is Donderdag daar by Golden Gate weg so met die pad langs deur Kestell, Warden, Vrede en toe deur Standerton na Charl Cilliers toe, om so na middagete op Van Tondershoek in te sleep.
As julle wil weet wat is lekker – lekker is om daar by Van Tondershoek se laning dennebome in te draai en die plaashek voor mens te sien.
Die Noord – Oos Vrystaat hier bo Kestell se wêreld is diep – mooi. Sulke lank sagte heuwels met die rooigras wat na die vorige goeie somer nog dig en vaal oor die vlaktes lê. Dis of die lug hier en in die Suid – Oos Transvaal blouer as blou is en so naby voel. So asof mens kan uitreik en dit aanraak – en daar is asem, asem so wyd soos die vlaktes rondom jou.
Het net vinnig in Kestell stilgehou en so deur die enkel straat een kant in en die ander kant uit gewees. Dit is ‘n stil – baie stil – dorpie daardie. Lê egter in so ‘n mooi deel van die land en so naby aan Golden Gate, dat ek ‘n gedagte het dat daardie dorpie nog baie moontlikhede het. Is nie te naby aan die stad en nie te vêr nie – wonder of die grondinflasiegogga daai plekkie ook al gebyt het.
Warden is een van daai plekke wat mens nie by indraai nie – jy gebruik hom net as ‘n merk langs die pad om te weet hoe vêr is dit nog Johannesburg of Durban toe. Het nie tyd gemaak om Vrede deur te ry nie – het in lankal se dae toe ek so tussen Bloemfontein en die plaas geryloop het, te veel daar deurgegaan en ‘n geleentheid gesoek. Het ‘n paar koue nagte daar deurgegaan!
Standerton lyk of hy in die laaste paar jaar eers begin ontwikkel het. Is seker maar ‘n ‘late bloomer’! Is ‘n lekker groot plattelandse dorp – so een wat nog dorp is, maar alles is hier. As ek so deur die paaie heen terugdink, is dit die eerste groot dorp na Outshoorn wat ek gekry het. Al die ander is maar half aan die klein kant – ingesluit Graaff Reinet.
Die Skerpioen en die karavaantjie het sommer so half vanself die pad gevat toe ek daar noord uit Standerton die pad vat Charl Cilliers toe – en dadelik was ek terug in die verkeer – het al vergeet hoe maak die Transvaal se verkeer. En die lorries! Toe kom Charl Cilliers van voor af – kannie glo hoe het die plek verander in die laaste 2 maande nie – is nog steeds net die kerk, polisiestasie (erg gehawend en opgebruik), twee algemene handelaars en ‘n kafee (sweer is nog dieselfde ouens van twee maande terug daar by die kroegtoonbank), maar die sinkhuisies en teenswoordige bevoordeeldes het die wêreld ingeneem. Van ‘n plekkie langs die pad het die dorpie opgeskiet in ‘n jong Sowetotjie. Waarlik ‘n teenswoordige bevoorregde dorp!
Die plaas was lekker – mens se ouerhuis bly seker die lekkerste plek wat daar is – van die ruik van die politoer op die plankvloere, die lang donker gang en die koel kamers, tot die lekker gekookte kos en Pa en Ma se omgee. Alles voel so asof jy gister hier uitgery het, nie asof jy na 10800 km en 9 weke later van die land deurkruis, hier ingesleep het nie.
O ja, en Vrydag toe het ek en my se pa die pad terug gevat Standerton toe en uiteindelik is die karavaan toe gerigestreer – sommer ‘n Mpumalanga nommer! Ek vat toe ‘n kans en vra of ek nie my Skerpioen ook maar kan herregistreer nie – daardie GP nommerplate doen dit nie vir my nie! En sien daar – 5 minute later is ek getransformeer van ‘n Gautenger na Mpumalanga! Ek is nogal heel in my skik met die MP nommers!
Het gekuier hier op die plaas tot vandag – gaan moreoggend vroeg terug Pretoria toe.
Dankie vir almal wat ek so met die reis ontmoet het - dankie vir almal wat die blog gelees het en dit geniet het en die kommetaar daaroor. Baie dankie vir beulah se mense en julle invloed in my lewe en laastens, maar die belangrikste - dankie aan Jesus Christus wat my Verlosser is en wat ek maar eers op hierdie reis vir die eerste keer werklik ontmoet het. Ek het nou 'n lang en vol reis vorentoe saam met Hom.
Mooi Loop

0 Comments:
Post a Comment
<< Home